Die harp is ’n snaarinstrument waarvan die snare vibreer en klank voortbring wanneer die speler die snare tokkel of die vingers of hande daaroor laat gaan. Moderne harpe het die vorm van die syfer 7. Die harp bestaan uit ’n langwerpige klankkas en ’n reguit of geboë nek. Tussen die klankkas en nek is ’n groot aantal snare gespan, wat in lengte en dikte van mekaar verskil. Elke snaar produseer ’n enkele toon. Hoe langer (en dikker) die snaar, hoe laer die toon. Die punt van die nek en die punt van die klankkas, die kop en die voet van die harp, word langs die laagste snaar gesteun deur ’n pilaar, wat reguit of elegant geboë kan wees. Deur die nek steek stemskroewe of -penne, waaraan links die snare geheg word. Aan die regterkant kan die skroewe verstel word om die snare te stem.[1] [2] [3]
In die politiek en by verskillende tradisies word harpe as simbole gebruik, byvoorbeeld in Ierland.[4]
Ook in of as logo’s is harpe dikwels te sien.[5]